Hoor God Deur Drome En Visioene (Sagteband)

    Hoor God Deur Drome En Visioene (Sagteband)

    Martin Van Der Merwe
    Free National Shipping on Orders over R450!
    Dispatch within 24 working hours
    R150.00

    HOOFSTUK 1

    EERSTE ONTMOETING

    Ek lê op ‘n bed in ‘n klein kamertjie. Die enigste meubelstuk in die vertrek is die doktersbed waarop ek my bevind. Alles is suiwer wit. Ek is bewus van ‘n skitterwit lig wat alles in die vertrek omgewe. Die lig is in alles en straal uit alles. Al is die lig so helder, maak dit nie my oë seer nie. My hele liggaam word gebaai in hierdie wonderlike suiwer wit lig.

    Ek ervaar totale vrede. Terwyl hierdie gevoel van vrede deur my spoel, hoor ek die wonderlikste stem wat ek nog ooit gehoor het. Dit is soos die gerommel van donderweer, maar tog so stil soos die aandwind. Dit is soos die dreuning van die oseaan, maar terselfdertyd so sag soos die gekabbel van ‘n waterstroompie oor die klippe.

    Dit is die stem van God wat my naam uitroep. Net hierdie een woord, ‘Martin’ … Skielik maak niks anders meer saak nie! Alles in my wil die Eienaar van daardie Stem volg. Vir die eerste keer in my lewe ervaar ek ‘n gevoel van geborgenheid en ‘n totale vrede wat deur my siel spoel.

    My vrou, my werk, my huis … alles vervaag tot onbenullighede. ‘My God het my by die naam geroep! Hy ken my naam!’ Hy het die moeite gedoen om my te besoek en my siel aan te raak.

    Ek roep: ‘Hier is ek Here, U kan my neem, ek is gereed!’

    Dit is al wat ek onthou. Snakkend na asem en met brandende longe skrik ek wakker. My hart klop soos ‘n masjiengeweer. Dit voel asof ek vir ‘n lang tyd nie asem gekry het nie. Ek is gevul met ‘n mengsel van teleurstelling en verligting: Het ek gedroom, of was dit ‘n sogenaamde ‘naby dood’-ervaring?

    Langs my lê my vrou rustig en slaap, totaal onbewus van die geweldige ervaring wat ek so pas gehad het. Ek wil haar eers wakker maak, maar weet nie wat om te sê of hoe om die ervaring aan haar te verduidelik nie. Uitgeput leun ek terug teen my kussing en probeer verstaan wat so pas met my gebeur het.