Die Antichris (Sagteband)

    Die Antichris (Sagteband)

    Jaco Thom
    Free National Shipping on Orders over R450!
    Dispatch within 3 weeks
    R150.00

    'n Boeiende verhaal oor die eindtyd wat gelowiges sal vertroos en versterk.

    ’n Reusagtige sonvlam verskroei die aarde. ’n Supertifoon tref die Stille Oseaan. Die getal 666 oorheers die wêreldhandel…

    Vir baie gelowiges is dit alles tekens van die eindtyd.

    Maar miljoene mense wêreldwyd vind vrede by Die Ware Weg – die godsdiens wat geen las of juk oplê nie, en die liggaamlike aanbidding van die Ewige Moeder voorop stel.

    Vir Miklós Király Balázs, hoof van Balázs Kovács Internasionaal en stigter van Die Ware Weg, is dit net die begin. Hy gaan met niks minder as wêreldoorheersing tevrede wees nie. En dit gaan hy bereik deur middel van sy greep op die wêreldekonomie. Hý is immers die verlosser van die wêreld.

    Jan Liebenberg, teoloog van Stellenbosch, sien in Miklós egter die Antichris self. Dit is veral onrusbarend dat Miklós homself al hoe met Christus vergelyk en Hom verkleineer.
    Daarby het Miklós en sy ma, Romni, ook ’n persoonlike grief teen Jan en verslap nie in hulle aanslag op Jan en sy gesin nie.

    Ná sy tydelike dwaling en daaropvolgende terugkeer na die geloof, vind Jan ’n nuwe roeping: om sy broers te versterk en gemeentes in te lig oor Miklós en sy dodelike ambisie. Maar wat skuil agter die aanvalle op Christelike kerke? En hoe gaan Miklós se gevaarlike dobbelspel vir hom en die wêreld afloop?

    Oor die skrywer

    My skryfwerk het begin nadat ek ’n boek van Adriaan Snyman, Die Arkbouer, gelees het. Ek het besef dat ek met my teologiese opleiding ’n groot voorsprong het as dit by die skryf van Bybelse romans kom. My eerste poging was ’n roman oor Abraham se lewe, getiteld Die Vreemdeling. Ek het dit in 1993 voltooi, maar nadat dit deur twee uitgewers afgekeur is, het ek die manuskrip op die rak gebêre en iets anders probeer.
    Só is Die Bybelkoerant gebore, ’n Bybelse dagboek waarin ek die Bybelse geskiedenis in koerantvorm oorgeskryf het. Dit is deur Human & Rousseau aanvaar en in April 1996 uitgegee. Daarna het ’n opvolg verskyn, Die Tweede Bybelkoerant (1997). Die Bybelkoerant is intussen in Engels vertaal met die titel The Bible Herald (1998). In 2006 is die twee bande in een boek heruitgegee as Die Groot Bybelkoerant.
    Intussen het ek Die Vreemdeling ingeskryf vir CUM en Afrikaans Stereo se skrywerskompetisie (slegs ongepubliseerde manuskripte is vir dié kompetisie oorweeg). Die manuskrip het die eerste prys in die kategorie “Beste Debuutwerk” verower, en is in Maart 1996 gepubliseer deur CUM, net ’n paar weke voordat Die Bybelkoerant verskyn het.